Sichote-Alin-meteoriet

Sichote-Alin
'n Fragment vol duike van Sichote-Alin.
'n Fragment vol duike van Sichote-Alin.
Voorwerp
Tipe Yster
Groep IIAB
Samestelling 93% Fe, 5,9% Ni, 0,42% Co, 0,46% P, 0,28% S
Datum 12 Februarie 1947
Waargenome val Ja
TBG 23 ton
Verstrooi Ja
Gebied
Land Vlag van Rusland Rusland
Streek Sichote-Alin-berge, Primorski-krai

Die Sichote-Alin-meteoriet, 'n ystermeteoriet, het in 1947 in die Sichote-Alin-berge in Suidoos-Rusland geval. Groot ystermeteorietvalle is al vantevore waargeneem en fragmente herwin, maar nog nooit in die aangetekende geskiedenis 'n val van dié omvang nie.[1] Fragmente van 'n geraamde 23 ton[2] het hulle val deur die atmosfeer oorleef en die Aarde bereik.

Impak

'n Seël wat die 10de herdenking van die impak vier.

Op 12 Februarie 1947 om 10:30 plaaslike tyd het ooggetuies in die Sikhote-Alin-berge in Primorski-krai, Sowjetunie, 'n groot bolied gesien wat helderder as die Son was. Dit het uit die noorde gekom teen 'n hoek van omtrent 41 grade. Die helder flits en oorverdowende klank is waargeneem tot 300 km van die punt van impak, nie ver van Loetsjegorsk nie en sowat 440 km noordoos van Wladiwostok. 'n Rookspoor, wat geraam is op 32 km lank, het ure daarna nog in die lug gehang.

Toe die meteoor die atmosfeer teen sowat 14 km/s binnekom, het dit in stukke gebreek en die fragmente het saam geval. Sommige het hulle tot 6 m diep in die grond ingegrawe.[3] Op 'n hoogte van sowat 5,6 km het die grootste deel blykbaar gewelddadig ontplof.

Op 20 November 1957[4] het die Sowjetunie 'n seël uitgereik om die 10-jarige herdenking van die Sichote-Alin-meteorietreën te vier. 'n Skildery deur Pjotr Iwanowitsj Medwedef, 'n Sowjetse kunstenaar wat die val gesien het, is daarop gebruik. Medwedef het by sy venster gesit en net begin skets toe dit gebeur. Hy het dadelik begin teken wat hy sien.[5]

Grootte en verstrooiing

Sichote-Alin se geraamde massa voordat dit die atmosfeer binnegekom het, word geraam op sowat 90 000 kg.[6] 'n Meer onlangse raming deur Tswetkof en ander is omtrent 100 000 kg.[7] Krinof raam die massa van die voorwerp nadat dit deur die atmosfeer getrek het op sowat 23 000 kg.

Die verstrooiingsveld van die meteoriet het 'n gebied van sowat 1,3 km2 gedek. Van die fragmente het slagkraters gevorm, waarvan die grootste een 26 m breed en 6 m diep was.[2]

Samestelling en klassifikasie

Die Sichote-Alin-meteoriet word geklassifiseer as 'n ystermeteoriet in die klas IIAB. Die samestelling was 93% yster, 5,9% nikkel, 0,42% kobalt, 0,46% fosfor en 0,28% swael, met spoorhoeveelhede germanium en iridium.

'n Groot spesimen word in Moskou ten toon gestel. Baie ander is in besit van die Russiese Wetenskapakademie en nog ander, kleiner spesimens bestaan in die versamelaarsmark.

Verwysings

  1. Norton, O. Richard (1998). Rocks From Space. Missoula, Montana: Mountain Press. p. 103. ISBN 0878423028.
  2. 2,0 2,1 "Sikhote-Alin". Geargiveer op 2012-01-30.
  3. "Sikhote-Alin Meteorite". meteoritemarket.com. Besoek op 4 Junie 2021.
  4. Burns, Philip R. "Pib". "Meteorite Stamps and Coins". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2000-01-21.
  5. "Sikhote Alin". Planetarium de Montreal. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2006-05-21.
  6. Norton, O. Richard; Chitwood, Lawrence A. (2008). Field Guide to Meteors and Meteorites. Londen: Springer-Verlag. p. 47. ISBN 9781848001572.
  7. Gallant, Roy (Februarie 1996). "Sikhote-Alin Revisited". Meteorite Magazine. Arkansas Center for Space and Planetary Sciences, University of Arkansas. 2: 8. Bibcode:1996Met.....2....8G. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2010-06-12.

Skakels

  • "Exposition "Meteorites"". Fersman Mineralogical Museum. Moskou, Rusland: Russiese Wetenskapakademie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1999-04-20.
  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Sichote-Alin-meteoriet.
  • Nuvola apps bookcase 2.svg Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.

Koördinate: 46°09′36″N 134°39′12″O / 46.16000°N 134.65333°O / 46.16000; 134.65333

Normdata Edit this at Wikidata